Skip to main content
A picture of the Red Square on the Stellenbosch campus.
Image by: Stefan Els
Menings en artikels

Honger, waardigheid, en wat ons kies om raak te sien

Karen Bruns
13 April 2026
  • Honger beïnvloed nie net die liggaam nie. Dit beïnvloed konsentrasie, energie, deelname, emosies en uiteindelik sukses.
  • #GivingMaties: Daar is iets diep mensliks in die manier hoe ons US gemeenskap betrokke wil raak
  • 'n Skenking, ’n gesprek, ’n sigbare daad wat ondersteun – dit is nie klein dinge nie. Dit is deel van hoe die kultuur verander.

Daar is sekere waarhede wat moeilik is om te bedink. Studentehonger is een daarvan. Honger onder studente is nie ’n nuwe kwessie nie en dit gebeur nie sonder meer nie. Dit is ook nie beperk tot die Universiteit Stellenbosch (US) nie. Universiteite dwarsdeur Suid-Afrika word gekonfronteer met ’n werklikheid wat kwalik met die strewe na uitnemendheid strook – studente wat akademies bekwaam is, op meriete toegelaat word, en steeds nie in staat is om in hul mees basiese daaglikse behoefte, naamlik voedsel, te voorsien nie.

Ons weet dit. Ons sien dit in die data, in tekorte aan finansiële hulp, in stil gesprekke met studente wat probeer om planne nog ’n bietjie verder te laat strek as wat hulle kan. En tog bly honger op vele maniere verborge. Dit word bestuur, verberg, genormaliseer.

Al is daar waardigheid in hoe studente skaarste hanteer, kom dit teen ’n prys.

Honger beïnvloed nie net die liggaam nie. Dit beïnvloed konsentrasie, energie, deelname, emosies en uiteindelik sukses. Dit bepaal wie floreer en wie bloot oorleef. Inderwaarheid weerspreek studentehonger die idee dat toegang tot universiteit op sigself genoeg is. Toegang sonder ondersteuning is immers geen geleentheid nie.

Wat my opval omtrent die huidige #GivingMaties-veldtog, buiten die omvang van die poging, is die diverse reaksie. Daar is iets diep mensliks in die manier hoe ons US gemeenskap betrokke wil raak; deur berge te klim, vir uiterste afstande fiets te ry, verjaarsdae op te offer, of net daar te wees met klein, sigbare gebare wat solidariteit toon.

Hierdie aksies maak saak. Buiten die insameling van noodsaaklike fondse, dui dit op iets diepers – dat honger nie iemand anders se probleem is nie. Studentehonger raak ons almal. Dalk is dit waar die werklike skuif plaasvind. Universiteit-fondsinsameling is lank op ’n afstand, ver van die geleefde ervaring, gedoen. Daar is gekonsentreer op groot skenkings, gestruktureerde programme en strategiese prioriteite – alles nodig, alles van belang. Menslike betrokkenheid soos hierdie herinner ons egter dat filantropie meestal oor verhoudings gaan. Oor nabyheid. Oor die erkenning van die persoon agter die nood.

Studente wat noodondersteuning deur #Move4Food ontvang, is nie gesiglose begunstigdes nie. Hulle is klasmaats, spanmaats, toekomstige kollegas, almal deel van die struktuur van hierdie instelling.

Deur op studentehonger te reageer voorsien ons in ’n onmiskenbare nood en bevestig ons ’n vaste oortuiging oor tuishoort – geen student moet onsigbaar voel nie. Geen student hoef te kies tussen vervoer na ’n lesing of ’n ete nie. Studentewaardigheid maak saak.

Hier is ook iets anders betrokke, iets wat met die groter rol van hedendaagse universiteite in Suid-Afrika te doen het. Ons is instellings wat deur die geskiedenis gevorm word, wat steeds inherente ongelykhede hanteer wat tot ver buite ons kampusse strek. Honger is een manifestasie van daardie ongelykheid. Honger hou ’n spieël op, en in die terugkaatsing sien ons die beperkings van ons stelsels, die gapings in ons befondsingsmodelle, en die werklikheid dat studentesukses meer as die akademiese aanbod omvat. Studentesukses vereis sorg. Nie as ’n liefdadigheidskwessie nie, maar as ’n oorhoofse verantwoordelikheid.

Die reaksie wat ons deur #GivingMaties en #Move4Food ervaar, is bemoedigend juis omdat dit ’n gesamentlike poging is. Ons het aanbeweeg van die idee dat oplossings altyd groot in omvang, gesentraliseerd, en perfek moet wees. In plaas daarvan vra die veldtog deelname op elke vlak.

Jy hoef egter nie Kilimanjaro uit te klim nie. Tensy jy wil.

Jy hoef nie die Cape Epic te ry nie. Tensy jy gereed is vir die uitdaging.

Jy hoef eenvoudig te besluit dat die kwessie vir jou saak maak.

’n Skenking, ’n gesprek, ’n sigbare daad wat ondersteun – dit is nie klein dinge nie. Dit is deel van hoe die kultuur verander. Hoe kwessies wat eens verborge was, ’n gedeelde kommer raak. Hoe instellings vorder. Miskien is dit juis in hierdie stil uitnodiging. Nie net om te gee nie, maar ook om te besin. Om te vra wat dit beteken om deel te wees van ’n universiteitsgemeenskap waar honger bestaan, en wat dit verg om konsekwent en gesamentlik, oor tyd, op die uitdaging te reageer.

Veldtogte kom en gaan. Alhoewel Skenkingsdae groter bewustheid skep, bly die onderliggende vraag: Watter soort instelling wil ons wees? Een wat maar net honger erken, of een wat aktief werk om dit te bekamp?

Die oplossing is nie in ’n enkele veldtog te vinde nie – eerder in hoe ons verder gaan optree – want elke aksie bou voort op ’n vorige.

Karen Bruns is Hoofdirekteur: Bevordering, Belanghebber-interaksie en Kommunikasie

 

 

Verwante stories