Skip to main content
Noku Katom
Image by: Henk Oets

Noku Katom is ’n gemeenskapsontwikkelaar, ’n geloofsgedrewe entrepreneur en ’n akademikus-praktisyn. 

Persverklaring Toekennings en mylpale

Teologie-gegradueerde bewys dat onderwys geen vervaldatum het nie

Anél Lewis
Senior journalist
02 April 2026
  • Toe ’n tienerswangerskap en vroeë ouerskap soos ’n tweesnydende swaard gevoel het, het Noku Katom ’n lewensveranderende besluit geneem.
  • Sy het onlangs cum laude met ’n meestersgraad in praktiese teologie (gemeenskapsontwikkeling) aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie gegradueer.
  • Sy is voornemens om met kerke dwarsdeur Suid-Afrika saam te werk om geloofsgebaseerde entrepreneurskap-ekostelsels te bou wat veral die bemagtiging van vroue ten doel het.

Toe ’n tienerswangerskap en vroeë ouerskap soos ’n tweesnydende swaard gevoel het, het Noku Katom ’n lewensveranderende besluit geneem: Sy sou “haarself gaan haal”.

Verlede week het sy cum laude met ’n meestersgraad in praktiese teologie (gemeenskapsontwikkeling) aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie gegradueer. “Ofskoon die uitdagings van die lewe ’n vertraging op my pad na hoër onderwys meegebring het, het ek geweet daardie hoofstuk is deel van my storie en nie die einde daarvan nie,” vertel sy.

Vandag is Katom ’n gemeenskapsontwikkelaar, ’n geloofsgedrewe entrepreneur en ’n akademikus-praktisyn wat ondersoek hoe teologie ekonomiese geregtigheid en transformasie in Suid-Afrika se hoogs ongelyke samelewing kan inspireer.

Veerkragtigheid as grondslag

Katom, wat van die dorpie Qumanco in Cofimvaba in die Oos-Kaap afkomstig is, is die derde van agt kinders. Sy is in gemeenskap grootgemaak waar veerkragtigheid en geloof deel van die daaglikse lewe was, vertel sy. 

Ofskoon sy reeds sedert die vroeë 2000’s in Kayamandi gewoon het, het die US eens buite bereik gevoel. “Daar was baie min studente wat soos ek gelyk of gepraat het. Taal was ook ’n groot hindernis,” sê sy. “Ek kon myself nooit as ’n US-student indink nie.”

Maar terwyl sy die Universiteit se transformasie aanskou het, het iets mettertyd verander. “Wat eens ver en ontoeganklik gevoel het, het uiteindelik deel van my eie reis geword.”

Vandag deel sy hierdie storie wyd, veral met jongmense wat twyfel of hulle by die US behoort. Sy verduidelik hoe sy gedurende die tyd wat sy in die omgewing gewoon het, getuie van die Universiteit se transformasie was. “Danksy daardie transformasie kon ek myself as ’n US-student indink.”

Een faktor wat vir haar uitgestaan het, was dat die Universiteit binne loopafstand van gemarginaliseerde gemeenskappe geleë is. “Dié nabyheid het ’n gevoel geskep dat hoër onderwys binne bereik kon wees.”

’n Later, maar gedrewe begin 

Katom het in haar laat dertigerjare begin studeer en moes al die kompleksiteite wat ’n ouer student tussen jonger eweknieë beleef, die hoof bied. 

“Ek moes die innerlike verleentheid van ’n ouer heeltydse student tussen baie jonger studente die hoof bied,” erken sy. “Maar iets wat mense dikwels nie besef nie, is dat ouer studente dikwels akademies baie goed presteer – nie in vergelyking met jonger studente nie, maar omdat ons met lewenservaring, dissipline en gedrewenheid studeer.”

Dit is iets wat sy deel wanneer sy volwasse voornemende studente wat voel dat hulle dalk hulle kans misgeloop het, aanmoedig. “Onderwys het nie ’n vervaldatum nie.”

Uitdagings – en oomblikke van genade

Soos baie ander studente het Katom finansiële probleme ervaar terwyl sy studeer het.  Tóg praat sy met diepe dankbaarheid oor die ondersteuning wat sy langs die pad ontvang het.

Een oomblik staan uit.

“In Desember 2022 het ek uitstaande skuld by die Universiteit gehad en dis onverwags ten volle deur iemand vereffen. Ek weet steeds nie wie dit was nie,” vertel sy. “Vir my was dit ’n kragtige herinnering aan God se voorsiening.”

Sy het ook waardering vir die US se beleid wat studente met uitstaande skuld toelaat om hulle gradeplegtigheid by te woon.

“Gradedag is so ’n betekenisvolle oomblik, veral vir studente uit gemarginaliseerde agtergronde. Ek sal altyd dankbaar wees dat die US my toegelaat het om hierdie mylpaal te beleef.”

Ondanks finansiële beperkings het haar akademiese reis onverwags deure geopen. Dít het internasionale reise na Indië, Finland en Pole ingesluit. ’n Uitruilprogram in 2024 in Finland was besonder transformerend.

“Dit het my in ’n skrywer laat ontluik,” sê Katom. “Ek het ’n boek geskryf waarin ek oor my reis peins. Dit het my daaraan herinner dat entrepreneurs geleenthede agter uitdagings raaksien.” 

Ondersteuning die sleutel tot sukses

Katom gee haar ondersteuningsnetwerk die krediet vir haar sukses.

Sy praat met diepe waardering van dr Dawid Mouton van die Fakulteit Teologie, wat pastorale sorg gedurende die Covid 19-pandemie verskaf het en haar selfs toegelaat het om te huil toe dinge moeilik geraak het. “Sy ondersteuning was nie net akademies nie; dit was diep menslik.”

Haar studieleier, prof Nadine Bowers du Toit, het ook ’n sleutelrol gespeel.

“Ek kan ’n hele boek oor haar leiding skryf. Dit titel sou kon wees: “Tesis, trane en triomf: ’n Student se gids vir die keuse van die regte toesighouer”. Haar ondersteuning het veel verder as akademiese toesig gestrek; sy het werklik vir my welstand as ’n mens omgegee.”

Dié sorg was veral betekenisvol ná die verlies van Katom se pa in 2025. “Sy het gedurende ’n baie pynlike tyd vir my ruimte geskep. Dit het meer beteken as wat ek ten volle kan verwoord.”

Die doel van teologie

Hoewel haar besluit om teologie te studeer in geloof gegrondves was, het Katom aanvanklik ’n beperkte begrip van die vakgebied gehad.

“Ek het gedink teologie gaan hoofsaaklik daaroor om ’n pastoor te word,” vertel sy. “Maar ek het geweet my roeping is om met mense en gemeenskappe te werk.”

Aan die US het sy die wye omvang van die dissipline ontdek en haar plek in praktiese teologie gevind, met gemeenskapsontwikkeling as haar spesialisveld.

“Wat my verbaas het, was die ontdekking dat die werk wat ek jare lank gedoen het, in werklikheid as ’n volle akademiese vakgebied bestaan. My studie het my in baie opsigte gehelp om akademiese taal en teoretiese grondslag op die werk toe te pas waaroor ek al lankal passievol was.”

Om navorsing in impak te omskep

Katom hoop om in die toekoms ’n PhD te verwerf wanneer haar finansies dit toelaat.

Intussen fokus sy daarop om haar meestersgraadnavorsing in die praktyk toe te pas. Haar studie, “Christelike entrepreneurskap en markplekbediening: oorbrugging van die gaping tussen die gewyde en die sekulêre vir vroue se ekonomiese deelname in die Suid-Afrikaanse konteks”, weerspieël haar visie vir verandering.

Sy is voornemens om met kerke dwarsdeur Suid-Afrika saam te werk om geloofsgebaseerde entrepreneurskap-ekostelsels te bou wat veral die bemagtiging van vroue ten doel het.

“Die doel is om kerke te help om ruimtes te word waar geloof, ekonomiese geregtigheid en bemagtiging mekaar ontmoet,” verduidelik sy.

Deur mentorskap, vaardigheidsontwikkeling en gemeenskapsondersteuning hoop sy om vroue se deelname aan die ekonomie uit te brei – en te demonstreer hoe teologie aktief tot maatskaplike transformasie kan bydra.

’n Storie wat steeds ontvou

Met die viering van haar derde gradedag bly Katom geanker in dít wat haar aanhou motiveer.

“Ek ding met niemand anders as my gister mee nie,” sê sy. Haar reis van ’n jong ma in ’n landelike Oos-Kaapse gemeenskap na ’n cum laude-gegradueerde en ’n opkomende denkleier dien as ’n kragtige herinnering dat dit nooit te laat is om weer te begin nie.

“Onderwys het my lewe verander,” vertel sy. “Nou is my roeping om te verseker dat geloof ’n krag vir ekonomiese geregtigheid en menswaardigheid in ons gemeenskappe word.”

Verwante stories