Skip to main content
A scene from one of the videos where a Deaf storyteller interprets a children’s storybook in South African Sign Language.
Image by: Book Dash / Handlab

A scene from one of the videos where a Deaf storyteller interprets a children’s storybook published by Book Dash in South African Sign Language. 

Media release Arts, languages and social sciences Impact

SU’s Handlab and Book Dash open new worlds for Deaf children

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
12 December 2025
  • A landmark partnership brings the full Book Dash library of more than 200 African children’s books to life in South African Sign Language (SASL).
  • Deaf storytellers from across the country join the project to create expressive, culturally diverse SASL story videos.
  • With more than half the stories already recorded in SASL, the collaboration signals a major shift toward inclusive early literacy in South Africa.

ʼn Stille revolusie wat in vroeë kindergeletterdheid woed het nie in ʼn klaskamer begin nie, maar in ʼn ateljee waar dowe storievertellers Afrika-stories inoefen en in die ekspressiewe ritmes van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) oorvertel. Hier hervorm ʼn samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch (US) se Handlab en die sosiale impakuitgewer Book Dash toegang tot stories vir dowe kinders reg oor die land.

Vir die eerste keer word die hele Book Dash-biblioteek – 221 prenteboeke geskep deur vrywillige skrywers, illustreerders en ontwerpers – in SAGT vertaal en opgeneem, wat verseker dat dowe kinders van vroeg af stories in hul eie taal kan ervaar. Die projek is gegrondves in taalregte, gemeenskapsverteenwoordiging en die oortuiging dat elke kind ʼn storie verdien wat tot hulle spreek.

Uitbreiding van toegang deur taal

Handlab, ʼn ontwikkelingsprojek van kurrikulummateriaal-in die US se Departement Algemene Linguistiek, werk al lank aan die ontwikkeling van leer- en onderrigondersteuningsmateriaal vir die skoolvak SAGT Huistaal. Hul span van dowe en horende individue vervaardig al jare lank videotekste en onderrighulpbronne vir die meer as 40 skole vir dowes en hardhorendes oor die land heen. Hul vennootskap met Book Dash het beskeie begin met die vertaling van ʼn handvol stories.

Die erkenning in 2023 van SAGT as Suid-Afrika se 12de amptelike taal het hierdie vroeëre werk ʼn hupstoot gegee. “Die vertaling van die volledige Book Dash-biblioteek in SAGT is ʼn mylpaal, want dit takel een van die hardnekkigste hindernisse waarmee dowe kinders te kampe het: toegang tot vroeë taal en geletterdheid,” sê Vanessa Reyneke, Projekkoördineerder van Handlab. Talle dowe kinders begin skool met ʼn beperkte taalfondament, dikwels omdat hul gesinne (nog) nie gebaretaal gebruik nie, verduidelik sy. Vroeë blootstelling aan boeiende stories in SAGT kan die hele trajek van hul leerproses verander.

Die uitbreiding van die biblioteek na SAGT was ʼn natuurlike volgende stap vir Book Dash, wat gegrondves is op die beginsel dat elke kind teen die ouderdom van vyf 100 boeke moet besit. Zanri Kritzinger, Publikasiebestuurder van Book Dash, sê die samewerking weerspieël hul kernmissie: “Book Dash werk aan ʼn wêreld waar elke kind, ongeag hul vermoëns of ekonomiese situasie, toegang tot boeke het –verkieslik in hul huistaal.”

ʼn Jare lange vennootskap het beteken dat die organisasies gereed was toe die beleidslandskap verander het. Soos ʼn voormalige Uitvoerende Direkteur van Book Dash, Julia Norrish, in ʼn plasing ter viering van die inisiatief geskryf het, het langtermynsamewerking en gedeelde waardes dit moontlik gemaak om vinnig te beweeg nadat SAGT amptelik erken is. Skielik was dit haalbaar om die vertaling van die volledige versameling te finansier.

Diversiteit van die dowe gemeenskap verteenwoordig 

Handlab se span het geweet dat verteenwoordiging saak maak. ʼn Enkele gebaretaalstyl of -streek sou kinders se blootstelling aan die taal se rykdom vernou. Hulle wou hê dowe storievertellers van verskillende provinsies, met verskillende identiteite en gebaretaalstyle, moes help om die stories te laat lewe.

Om dit te bewerkstellig het hulle wyd geadverteer en vier opnamesessies in Kaapstad, Johannesburg en Durban aangebied. 18 dowe volwassenes is gekies om deel te neem. Wat gevolg het, was lonend én uitdagend.

“Een van die grootste deurbrake was om storievertellers van reg oor die land byeen te bring,” sê Reyneke. “Ons het nou ʼn versameling ryk, ekspressiewe video’s wat die diversiteit van die dowe gemeenskap ten toon stel.”

Maar die proses het baie meer tyd in beslag geneem as wat verwag is. Handlab het aanvanklik geraam dat dit een of twee ure sou vat om elke storie op te neem. In die praktyk het sommige storievertellers tot ses uur nodig gehad om ʼn enkele storie voor te berei, in te oefen en te verfilm. Die span het deurgedruk en leiding en deurlopende ondersteuning gebied. Die resultaat: 115 stories is reeds verfilm.

Dieselfde geleentheid was ʼn historiese eerste vir Book Dash: ʼn storie wat in SAGT as oorspronklike taal geskep is en bewerk is deur dowe vrywilligers wat aan die vinnige 12 uur lange boekmaakuitdaging deelgeneem het. Vir Kritzinger het dít ʼn keerpunt in inklusiewe storievertelling verteenwoordig.

Geletterdheidslandskap verander

Vroeë terugvoer van opvoeders en vennote dui op groeiende entoesiasme vir die SAGT-biblioteek. Met die projek wat nog in volle swang is, sê Kritzinger reaksies van Book Dash se Open Content Partner Sharing Session het uitgelig hoe gehore die inklusiewe benadering en die insig in vertaling in gebaretaal waardeer het.

Reyneke glo die impak sal verreikend wees. “Ons hoop hierdie inisiatief sal help om die geletterdheidslandskap te verander deur te verseker dat dowe kinders nie uitgesluit word van die vreugdevolle, storieryke kinderjare wat horende kinders dikwels as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê sy. Die SAGT-video's bied ook ʼn brug vir gesinne: Versorgers wat nie vlot in SAGT is nie, kan steeds stories met hul kinders deel.

Die werk word ondersteun deur skenkerfinansiering en ʼn etos van oop toegang. Alle voltooide video’s – 59 tot dusver – is gratis beskikbaar by www.bookdash.org, saam met oudioboeke, woordlose boeke en veeltalige uitgawes. Albei die organisasies beskou hierdie openheid as noodsaaklik vir die verbreding van toegang, veral in gemeenskappe met beperkte leesmateriaal.

Op lang termyn beplan Handlab om die samewerking met Book Dash voort te sit totdat die volledige versameling voltooi is. Verder hoop Reyneke die projek sal bydra tot ʼn onderwysstelsel waarin dowe kinders regverdige toegang tot vroeë geletterdheid het en waar SAGT ten volle in vroeë kinderontwikkeling. geïntegreer is.

Die vennootskap dui op ʼn verskuiwing in dít wat moontlik is wanneer kundigheid van dowe mense, universiteitsnavorsing en sosiale impakpublikasies saam ingespan word. In ateljees reg oor Suid-Afrika waar storievertellers die sagte inleidings en dramatiese wendings van geliefde Afrika-verhale in gebaretaal vertolk, ontdek ʼn nuwe generasie lesers nie net die plesier van stories nie, maar ook die krag van hul taal wat na hulle teruggekaats word.

Related stories