Honneurs-BA in Filosofie
Die honneursprogram bestaan uit vyf modules. Vier hiervan is onderrigmodules en elkeen is ses weke (of een kwartaal) lank.
Die onderrigskedule word deur die verantwoordelike dosent bepaal. Dit sal gewoonlik twee seminare per week behels. Die inhoud, formaat, duur en assesseringsmetodes word ook deur die individuele personeellid bepaal en kan die vorm van ʼn opstel, ʼn formele skriftelike eksamen, ʼn mondelinge eksamen, of ʼn kombinasie hiervan aanneem. Die seminare maak grootliks staat op die gehalte van die studentedeelname, wat op sy beurt afhang van uitstekende voorbereiding vir klasse deur studente.
Die vyfde honneursmodule is ʼn navorsingsopstel oor ʼn onderwerp van jou keuse, onder die studieleiding van die dosent van jou keuse. Studieleiers sal slegs navorsingsonderwerpe aanvaar wat binne hulle onderskeie kundigheidsgebiede val. Die opstelle is gewoonlik tussen 20 en 25 bladsye lank.
Jy mag een van die filosofiemodules vir honneurs vervang met ʼn honneursmodule in ʼn ander vak en dan steeds met ʼn honneursgraad in filosofie gradueer as jy aan al die vereistes voldoen het.
Daar is ook geleenthede vir uitruiling met universiteite in Europa, Skandinawië, die VSA en Suid-Amerika. Vir meer inligting, kontak die Internasionale Kantoor.
Raadpleeg asseblief die Fakulteit se Jaarboek vir inligting oor toelatingsvereistes, aansoeksperdatums en akademiese krediete.
Stuur navrae direk aan prof JP Smit by [email protected]