Skip to main content
Anell Daries & Jesse Le Roux

Anell Daries. Picture: Stefan Els

Jesse le Roux. Picture: Ignus Dreyer

Kampuslewe

Nuwe denke in Fakulteit oor die US se verlede en toekoms vir Anell Daries & 'n Ander soort behoort vir Jesse Le Roux

Desmond Thompson
12 November 2025
  • Anell Daries-Toe die studie, “Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women”, in 2019 gepubliseer is, het dit verontwaardiging ontketen oor hoe rassevooroordeel dekades ná apartheid in akademiese navorsing kon voortduur.
  • Jesse Le Roux-Le Roux het in Johannesburg en George grootgeword – relatief bevoorreg, maar in ander opsigte nié die stereotipe Stellenbosse student nie. Hy identifiseer as queer en het in 2020 aan die US kom studeer, ten spyte van waarskuwings dat hy waarskynlik nie ‘sy mense’ hier sou vind nie.

Toe die studie“Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women”, in 2019 gepubliseer is, het dit verontwaardiging ontketen oor hoe rassevooroordeel dekades ná apartheid in akademiese navorsing kon voortduur.

Anell Daries het dit persoonlik opgeneem. “Dit het my baie diep geraak. Hoewel die gemeenskap waar die navorsing plaasgevind het, nie geïdentifiseer is nie, kon dit netsowel my eie gewees het.”

Wat is die probleem?

Haar kritiek op “Die Artikel”, soos die studie wat later teruggetrek sou word, by die Universiteit Stellenbosch (US) genoem is, is veelvlakkig. 

Sy bevraagteken die raamwerk van die studie. “Dit impliseer dat alle vroue van ʼn spesifieke groep laer kognitiewe funksionering het as gevolg van opvoeding, dieet en leefstylkeuses. Dit weerspieël skadelike stereotipes waarteen ons al lank stry.”

Sy wys ook uit dat ‘kleurling’ ʼn omstrede term is. “Dis nie ʼn gemaklike kategorisering nie. In die artikel word ʼn bepaalde groep as homogeen behandel, terwyl dit eintlik divers en kompleks is.”

Boonop was daar “geen kritiek op hoe apartheid se klassifikasie toegang tot hulpbronne bepaal het nie – nie genoeg fokus op hoe stelsels, in plaas van individue, krisisse veroorsaak en onderhou nie.”

Hierdie vrae oor hoe idees, instellings en mag die strewe na ‘kennis’ vorm, sou spoedig die middelpunt van haar doktorale navorsing word.

Skok word wetenskap

Daries (nou 29) het op die Kaapse Vlakte grootgeword. Sy was hoofmeisie van haar skool, akademies sterk en altyd “bietjie van ʼn geskiedenis-nerd”. Ná matriek is sy na Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), ʼn ervaring wat sy koester vir hoe dit haar polities gevorm het, veral tydens #FeesMustFall in 2015.

Haar meestersgraadverhandeling aan UWK was oor Volkekunde – die etnologiese tradisie wat vir ʼn groot deel van die 20ste eeu hoofsaaklik by Afrikaanse universiteite aangebied is, totdat andersdenkende akademici ʼn oorgang na Sosiale Antropologie bemiddel het.

Sy was besig om haar studie af te handel toe die bohaai oor die artikel op Facebook losbars. “Ek het gedink, ‘Wat gaan by Stellenbosch aan? Hoekom doen hulle hierdie soort werk?’”

Dit het haar aangespoor om na Stellenbosch te kom vir haar PhD. “Ek wou verstaan op watter fondamente so ʼn studie gebou is.” Dié belangstelling het sedertdien haar navorsingsfokus op dissiplinêre nalatenskappe in hoër onderwys bepaal.

Hoe nalatenskap werk

In 2022 behaal Daries haar doktorsgraad onder leiding van prof Sandra Swart van die Departement Geskiedenis in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. In haar tesis spoor sy die geskiedenis van Sportwetenskap aan die US na. Dit is in 1937 as Liggaamsopvoeding in die Fakulteit Opvoedkunde gestig, die departement wat later die tuiste van die outeurs van die betrokke artikel sou word. So eggo dissiplinêre nalatenskappe oor geslagte heen.

Haar navorsing toon hoe ideologie die veld van die begin af gevorm het. In die 1930’s, toe die “armblankevraagstuk” die nasionale politiek oorheers en US-akademici in die Carnegie-kommissie gedien het, het die dissipline deel geword van wyer pogings om “witheid te red”. Dit het onder meer die bevordering van goeie voeding, fisiese aktiwiteit en higiëne behels, onder die leuse ʼn “gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees”.

Met verloop van tyd het die dissipline ontwikkel, onder meer tot Menslike Bewegingstudie in die 1980’s en Sportwetenskap in die 1990’s. Ná die opskudding oor die artikel het die US die dissipline na die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe verskuif.

Herstel herdink

Vir Daries het die kontroversie ʼn groter soeke ontsluit oor hoe akademiese dissiplines bepaal wat as kennis tel. Haar PhD het haar nuwe insig gegee in ʼn instelling wat sy eens net van ʼn afstand af dopgehou het. “Ek het die US probeer verstaan. As ek dit net gekritiseer het sonder insig, sou dit leeg wees,” sê sy.

Vandag doseer sy aan die Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), wat deur prof Pumla Gobodo-Madikizela gestig is. Daries, wat voorheen AVReQ se nagraadse programme byeengeroep het en nou die MPhil koördineer, gee klas in geskiedenis, geheue en herstel.

Verandering is ʼn lang pad

Gebaseer op haar navorsing, het sy ʼn staptoer ontwikkel wat begin by die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou – op grond wat eens deel was van Die Vlakte, waar duisende mense in 1964 onder gedwonge verskuiwings deurgeloop het.

Op die Rooiplein wys sy uit hoe Jan Marais se standbeeld nou “in gesprek” staan met ʼn foto van Nelson Mandela wat in 1991 in die Neelsie geneem is.

Sy staan ook stil by die Universiteit se Restitusiestelling, waarin die US “sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede” erken, sy “diepe spyt” uitspreek en “onvoorwaardelik” om verskoning vra.

Vir haar maak hierdie installasies nie net gesprekke oor geskiedenis en herstel oop nie, dit ontbloot terselfdertyd die gaping tussen institusionele bedoeling en geleefde werklikheid.

In die jaar wat Daries haar PhD verwerf het, is oudregter Sisi Khampepe van die Konstitusionele Hof aangestel om “bewerings van rassisme” aan die US te ondersoek. In haar verslag prys sy die US se “indrukwekkende teoretiese vordering in die rigting van transformasie”, maar bevind dat dit “nie voldoende omgesit word in die geleefde ervarings van studente en personeel nie” – wat “steeds onwelkom en uitgesluit voel”.

Hiermee kan Daries haar vereenselwig. Selfs nadat sy haar doktorsgraad aan die US verwerf en by AVReQ aangesluit het, is sy ʼn ambivalente ‘Matie’. “Dit het bepaalde historiese konnotasies – wie hier kon studeer, en wie nie – wat dit vir my baie moeilik maak om daardie identiteit volledig te omhels.”

Tog beskou sy transformasie as ʼn “spanningsveld” en sien sy ʼn “veldtog vir verandering” raak wat oor dekades aan die US ontvou. “Daar was voortdurend druk om die Universiteit se etos te transformeer – en dit het verander. Dis nie meer die Stellenbosch van die 1930’s of 1960’s nie.

“Daar is nog baie werk oor, maar ek beskou myself deel van ʼn groter kollektief wat Stellenbosch in ʼn nuwe lig wil sien – mense by hierdie Universiteit wat oor hierdie Universiteit skryf. Om ons instelling aanspreeklik te hou beteken ons moet ook onsself aanspreeklik hou – om die verandering wat ons wil sien, uit te leef.”

Iemand wat hierdie verantwoordelikheid aanvaar, is een van Daries se studente, Jesse le Roux (24).

ʼn Ander soort behoort

Le Roux het in Johannesburg en George grootgeword – relatief bevoorreg, maar in ander opsigte nié die stereotipe Stellenbosse student nie. Hy identifiseer as queer en het in 2020 aan die US kom studeer, ten spyte van waarskuwings dat hy waarskynlik nie ‘sy mense’ hier sou vind nie.

In matriek het hy ʼn week lank by ʼn vriend op Stellenbosch gekuier – ʼn ervaring wat ʼn blywende indruk op hom gelaat het. “Ek was mal oor die klasse, die atmosfeer, die Rooiplein,” sê hy. Daarom het hy hierheen gekom, ondanks sy bedenkinge.

Sy eerste ruk aan die US was moeilik. As ʼn eerstejaar in Pieke – toe nog ʼn studentegemeenskap slegs vir mans wat nie in ʼn koshuis was nie – het hy dikwels uitgesluit gevoel. “Tydens verwelkoming het die gesprek dikwels gegaan oor ‘hoe om die meisies te beïndruk’.”

In sy tweede jaar het hy as mentor begin optree. “Ek sou ʼn kleurvolle uitrusting of grimering dra. Nuwelinge sou vra, ‘Hoe is dit om hier gay te wees?’ Vir hulle was ek die persoon wat ek nodig gehad het toe ek hier aangekom het,” sê hy.

Dit het egter ʼn tol geëis. Een aand in die dorp is hy en ʼn vriend “moffies” genoem en is daar ʼn klip in hul rigting gegooi. Maar dít het sy verbintenis tot maatskaplike geregtigheid net versterk. 

“Mense span hul seile na die wind om in te pas,” sê hy. “Maar ons het ruimtes nodig waar ons net kan wéés, sonder om onsself in te perk.”

Hy het by QueerUS aangesluit en die geskiedenis van dié studentevereniging boeiend gevind – ʼn verhaal wat later die fokus van sy navorsing sou word.

Om die US te queer

In Le Roux se verhandeling vir sy MA-graad spoor hy die ontwikkeling van queer-mobilisering aan die US na.

Institusionele geskiedenisse, wys hy uit, word dikwels geskryf tydens groot oomblikke, soos die US se eeuwording in 2018. Maar “geskiedenisse van onder af” is ewe belangrik. “Hulle voeg tekstuur by en dra tot die groter tapisserie by.”

Sy studie begin in 1987, toe ʼn groep studente probeer het om ‘Gays van die Universiteit van Stellenbosch (GUS)’ te stig – ʼn inisiatief wat misluk het op ʼn tydstip toe die stryd teen apartheid voorrang geniet het.

Suid-Afrika het sy eerste demokratiese verkiesings in 1994 gehou en in 1996 ʼn nuwe grondwet aangeneem – die eerste land om seksuele oriëntasie te beskerm. Maar steeds was daar geen vereniging vir queer-studente aan die US nie. Dít het BA-student Jeanine Cameron in 1999 aangespoor om Les-Be-Gay (of Lesbigay) te stig. 

Twee dekades later het lede die vereniging se naam na QueerUS verander – om te wys dat ‘queer’ nie meer ʼn skelwoord is nie maar as inklusiewe term vir diverse seksuele en geslagsidentiteite dien.

Le Roux gebruik die feminis Eve Sedgwick se definisie van ‘queer’– ʼn “oop web van moontlikhede”. Maar hy benut dit ook as werkwoord – om die Universiteit van binne af te transformeer. 

“Dit is aanloklik om Stellenbosch as net ‘konserwatief’ uit te beeld. Maar wie is Stellenbosch? Dis nie eenduidig nie,” sê hy.

Herstel van die US

Daries sien in studente soos Le Roux die voortsetting van ʼn projek wat lank gelede al begin het – een wat progressief meer ruimte skep vir refleksie en behoort.

Hul daaglikse werk weerspieël daardie ingesteldheid. Daries mentor nagraadse studente met ʼn klem op welstand – “jy kan slegs jou beste werk doen as jy na jouself omsien”. Le Roux, wat sy verhandeling finaliseer, verwelkom nuwe MPhil-genote en begelei hulle deur die uitdagings van nagraadse navorsing.

Storie sonder end

Die US steek tans opnuut hand in eie boesem – met ʼn nuwe Rektor, prof Deresh Ramjugernath, en nuwe Kanselier, Lesetja Kganyago. Die instelling het ook onlangs sy jaarlikse Transformasie Indaba gehou. 

Op ʼn tydstip soos dié tel die Universiteit se verlede nog, maar is sy toekoms dalk belangriker. Vir Daries en Le Roux is die oplossing om nie in etikette en stereotipes vas te kyk nie.

“Institusionele kultuur kom nie net van bo af nie. Ons kan opdragte oor die US se Visie 2040 kry, maar hoe leef ons dit uit? Dís waar ons almal bydra,” sê Daries.

“Ja, ons wil almal oor die weg kom, maar dit beteken nie party mense moet hulself inperk nie,” sê Le Roux.

Saam herinner hulle ons daaraan dat die transformasie van ʼn universiteit nimmereindigend is. Dit is die werk van generasies – diegene wat die instelling gebou het, diegene wat dit uitgedaag het, en diegene wat aanhou droom oor wat dit nog kán wees.

AVReQ begin in Januarie 2026 met ʼn nuwe interdissiplinêre MPhil in Gewelddadige Geskiedenisse en Herstel.

ONDERSKRIFTE:

Anell Daries. Foto: Stefan Els

Jesse le Roux. Foto: Ignus Dreyer

* Desmond Thompson is ʼn vryskutjoernalis.

Merkers

Prestasies

Verwante stories