Skip to main content
Photo by Cheryl McEwan

Masters in Philosophy

Magister in Filosofie

Die program bied gevorderde opleiding in filosofie, met die oog op onafhanklike navorsing. ʼn Sterk honneursgraad in filosofie, of ʼn kwalifikasie wat deur die Senaat as gelykstaande beskou word, is die gewone voorvereiste vir toelating tot die MA-program. Die Departement evalueer elke aansoek op eie meriete, met inagname van die volledige akademiese profiel van die aansoeker. Ons neem ook in ag of die Departement oor die nodige kundigheid beskik om studieleiding oor die onderwerp van die student se keuse te verskaf. Ons bied twee magistergrade aan: (i) MA deur tesis; en (ii) MA deur kursuswerk en 50% tesis.

MA deur tesis:

Hierdie opsie is geskik vir studente wat duidelikheid het oor die onderwerp wat hulle wil navors, en/of die navorsingsvraag wat hulle deur onafhanklike navorsing wil verken. Saam met die uitkenning van die onderwerp, is dit deurslaggewend om ʼn geskikte studieleier vroeg reeds uit die personeel van die Departement te kies en te bekom.

MA deur kursuswerk en halftesis:

Hierdie opsie is geskik vir studente wat in ʼn breër oriëntasie op die gebied van die filosofie belangstel. Die program bestaan uit vier ‘tentamens’, of kleiner modules wat gesamentlik 50% van die graad uitmaak, plus ʼn tesis wat vir 50% (of 90 krediete) van die graad tel. Elkeen van die kleiner modules staan onder die studieleiding van ʼn ander personeellid en die inhoud, omvang en assessering van elke module word deur die betrokke personeellid, in oorlegpleging met die student, ontwerp. Studente moet, in oorlegpleging met die tesisstudieleier, besluit oor die volgorde waarin die tesis en die ‘tentamens’ afgehandel sal word.

In ooreenstemming met die bestaande ooreenkomste met buitelandse universiteite, word studente wat die gestruktureerde opsie volg, toegelaat om plaasvervangermodules aan ander universiteite te volg, terwyl hulle steeds aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf bly, op voorwaarde dat die tesiskomponent onder die studieleiding van ʼn personeellid van Stellenbosch afgehandel word.

Raadpleeg ons personeelprofiele vir inligting oor die navorsingskundigheid in die Departement.

Raadpleeg gerus die Fakulteit se Jaarboek vir inligting oor toelatingsvereistes en aansoeksperdatums.

Stuur navrae aan prof Louise du Toit by [email protected]